ALGEMENE INLIGTING 1. Skooltye Begin: 07h45 Huis toe: 13h00 Daar sal een van die personeellede aan diens wees vanaf 7h00 tot 13h30. U kan u kleuters direk na die betrokke klas neem. Die skool se hekke sluit om 7h45 en u kan die kantoorhekkie in Banketrylaan gebruik.
|
2. Personeel Me. Mariaan Deneys - Beertjieklas (Blou) Me. Cherani van der Westhuizen - Hasieklas (Groen) Me Mari Muller - Eendjieklas (Geel)
|
3. Finansies Skoolgeld vir graad R is verpligtend en maandeliks vooruitbetaalbaar voor of op die 7de van elke maand oor 'n tydperk van 10 maande (Februarie tot November). Samewerking ten opsigte van die volgende sal waardeer word: DIE STAAT, WAT U MAANDELIKS ONTVANG, MOET ALTYD SAAM MET DIE SKOOLWERK GESTUUR WORD. Tjeks moet uitgemaak word aan Laerskool Helderkruin en kan saam met u kleuter aan die onderwyseres gestuur word. Indien u ouer kinders in die skool het, mag u een tjek stuur. (Die afsondelike state van elke kind moet egter almal saam gestuur word).
|
4. Kleredrag Alle kledingstukke moet baie duidelik gemerk wees. Stuur asseblief daagliks 'n ekstra stel klere saam vir moontlike 'glipsies'. Trek vir u kleuter ou en gemaklike klere aan, waarvoor u nie jammer is nie. Somermaande, verkieslik kaalvoet. Onthou 'n sonhoed en sonbrandroom.
|
5. Medikasie Oorhandig self aan die onderwyseres en merk duidelik, met volledige instruksies.
|
6. Verversings/Happietyd 'n Gemerkte kosblik en koeldrankbottel. (Geen oopdraaibotteltjies nie - slegs 'n tuitbottel, bv. Oros) Ons versoek u om 'n 'gesonde' kosblik te pak. GEEN LEKKERS, SKYFIES OF GASKOELDRANK NIE. Maak seker dat u kleuter elke oggend ontbyt eet. U mag geld stuur indien u kind moet kos koop.
|
7. Snoepiedag Die kleuters gaan eenkeer per week na die snoepie. R10,00 is voldoende vir die aankoop van lekkers, koeldrank, skyfies of roomys.
|
8. Temas Die temas strek or twee weke en ons vra dat u asseblief met u kleuter daaroor sal gesels. Indien u iets interessant ten opsigte van die spesifieke tema het, is u welkom om dit saam te stuur.
|
9. Verslae U ontvang elke kwartaal 'n vorderingsverslag.
|
10. Uitstappies Gedurende die jaar neem ons die kleuters op uitstappies en ons sal van openbare vervoer gebruik maak. 'n Toestemmingsbrief sal elke keer aan u gestuur word vir ondertekening.
|
11. Verjaardae Ons hou klaspartytjie wanneer die kleuter verjaar en koek met kersies (wat voorsiening maak vir een stukkie per kleuter) is voldoende. 'n Lekkergoedpakkie met ietsie kleins kan ook gestuur word indien verkies.
|
12. Speelgoed GEEN speelgoed mag skool toe gestuur word nie. Onderwyseresse aanvaar geen verantwoordelikheid vir die speelgoed wat breek of wegraak nie.
|
13. Kommunikasie U sal elke Maandag 'n omsenbrief ontvang. Die skeurstrokie MOET asseblief geteken word en die volgende dag (Dinsdag) aan ons terug gestuur word. Ons vra u samewerking in die verband; dit versterk ook die aanleer van 'n verantwoordelikheidsin by die kind.
|
14. Benodigdhede vir die jaar. (Indien pakket nie by PNA, Wilrogate aangekoop is nie) Merk elke item duidelik met u kind se naam daarop. 1. 1 Pak snesies 2. Waslap - duidelik gemerk 3. 1 Bonsbal 4. 1 Springtou 5. 1 'Flipfile' 6. Gesinsfoto's en troeteldierfoto's (duidelik gemerk) vir ons fotoalbum. 7. Inkleurboek 8. Skêr 9. Boontjiesakkies (by kantoor beskikbaar @ R10) 10. 1 Stoelsakkie (by kantoor beskikbaar @ R25) 11. 2 Pritt (40g) gom 12. Vetkryt en kokipenne (1 pak elk)
|
15. Rekenaarsentrum Kleuters gaan een keer per week vir 'n periode na die Rekenaarsentrum.
|
16. Dagprogram Die graad R-leerders volg die Uitkomsgebasseerde onderwysstelsel en dit is ingedeel in die volgende leerareas: 1. Gesyferdheid Die volgende aspekte word gedek: 1.1 Bewerkings en verwantskappe - Begrip van basiese optel- en aftrekprobleme - Opbou en afbreek van getalle - Ken getalname en simbole tot 10 1.2 Patrone, funksies en algebra - Skep van eie patrone en kopiëring daarvan 1.3 Ruimte en vorm (meetkunde) - Bou van driedimensionele voorwerpe en identifisering daarvan. 1.4 Meting - Tydverloop - Massa, volume en lengte 1.5 Datahantering - Sorteer van fisiese voorwerpe volgens een spesifieke eienskap.
2. Geletterdheid Geletterdheid sluit temabesprekings, versies, stories, persepsie, liedjies en musiek in. Die leerders word nie in graad R formeel onderrig om te lees en te skryf nie. Informele lees en skryf kan egter 'n natuurlike uitvloeisel van die onderrigsituasie en die kind se ontwikkeling wees, byvoorbeeld die skyf van sy/haar eie naam.
Daar bestaan egter soms 'n persepsie dat 'n kind beter sal vaar in graad 1 as hy/sy alreeds in graad R leer lees en skryf. Indien 'n kind egter te gou oorgaan na formele werk (skryf en lees), word 'n belangrike fase van sy/haar ontwikkeling, naamlik die ontwikkeling van die perseptuele vaardigheid afgeskeep. Dit kan later tot leerprobleme in sy/haar skoolloorbaan aanleiding gee.
Wanneer 'n kind skool toe gaan is daar sprake van skoolrypheid sowel as skoolgereedheid. Skoolrypheid veronderstel bloot dat die kind die ouderdom bereik het waarop hy/sy skoolpligtig is. Skoolgereedheid daarenteen is meer kompleks. Dit behels die intellektuele, sosiale en emosionele gereedheid van die kind. Dit is 'n proses wat vanaf die kind se geboorte begin.
In die voorskoolse jare gaan die kind deur verskillende fases van ontwikkeling waardeur hy/sy gereed word om sekere vaardighede te bemeester. Die ontwikkeling van perseptuele vaardighede is 'n baie belangrike fase in 'n kind se ontwikkeling want sonder die vaardighede is suksesvolle skolastiese vordering onmoontlik. Dit is soos stappe wat op mekaar volg. Persepsie is die betekenis wat 'n mens se brein aan situasies/aktiwiteite gee, deur middel van sintuie (smaak, gesig, gehoor, tas en reuk). Vaardighede is die handelinge wat die liggaam uitvoer, byvoorbeeld spring, hardloop, knip, inkleur, ens.
Wanneer 'n mens druk sou uitoefen op 'n kind om sekere aspekte van die perseptuele vaardighede te vervang met formele vaardighede, veral voordat hy/sy daarvoor gereed is, word juis die teenoorgestelde van dit wat bereik moet word, bereik. Die kind vorder juis dan nie beter in die graad nie, want belangrike boustene is nie genoegsaam ontwikkel nie. Die belangrikheid van voorskoolse vaardighede kan nooit genoeg beklemtoon word nie. Elke leerder kan net hierby baat. Die Gautengse Onderwysdepartement steun ook hierdie beginsel - soveel so dat perseptuele vaardighede 'n groot deel van die totale kurrikulum van die grondfase uitmaak.
Dit is vir ons by Laerskool Helderkruin belangrik om ons kinders op 'n formele manier gereed te maak vir die formele fase (graad 1) van onderrig. Sodende weet ons dat ons kinders vir die res van hulle skoolloopbaan optimaal kan ontwikkel.
3. Lewensvaardighede Die leerders word voorberei om hulself te kan handhaaf in die klaskamersituaie. Groepwerk, konflikhantering, persoonlike ontwikkeling, ensovoorts word gedek. Groot motoriese vaardighede val dan ook onder lewensvaardighede (sien Gestruktureerde Buitespel).
|
17. Gestruktureerde Buitespel Hierdie prgram is uitgewerk in samewerking met die skool se Arbeidsterapeut. Die program behels in kort die volgende: 1. Sensories-motoriese koördinasie (gooi, vang en skop van balle) 2. Balans 3. Groot motoriese vaardighede 4. Speletjies 5. Boontjiesakkies 6. Hoepels 7. Hindernisbaan 8. Tou Spring, ens.
|
18. Dissipline Liefde gekombineer met dissipline gee sekuriteit. Ons poog om positiewe dissipline toe te pas deur kinders te beloon vir goeie gedrag. Voorregte kan egter weggeneem word as strafmiddel. Sterk ook ons hand in hierdie opsig en sien eerder positief as negatief raak.
Ons sien uit na 'n jaar van hartlike samewerking en dank u by voorbaat vir u ondersteuning.
|