1. DEFINISIES
Uitsetting Die permanente beëindiging van 'n leerder se reg om 'n bepaalde skool by te woon. Departements Hoof Hoof van die Onderwysdepartement Hoof van die provinsie (HD). Leerder Enige persoon, hetsy 'n kind of 'n volwassene wat onderwys ingevolge die skolewet ontvang. Gedragskode Beteken die gedragskode van die skool wat 'n skriftelike stel reëls en beginsels is oor dissipline, griewe en gedrag in die algemeen. Dit sê watter soort gedrag 'n skool sal duld en watter gedrag nie aanvaarbaar is nie. Verder stel dit ook sanksies voor wat toegepas sal word en omskryf die prosedure wat tydens 'n ondersoek gevolg moet word. Oortreding 'n Handeling wat strafbaar is omdat dit teenstrydig is met 'n skool reël of kode. Die oortreding kan wees deur 'n leerder of opvoeder en kan plaasvind binne of buite skoolure, tydens skoolaktiwiteite asook binne of buite die skoolperseel. Ouer Dit het betrekking op die natuurlike ouer van die leerder en/of die voog van die leerder en/of iemand wat 'n wettige aanspraak het op die sorg en beheer van die leerder. (Sien Skoolwet No. 84 van 1996). Sanksie Die straf vir 'n oortreding. Skorsing Die tydelike beëindiging van 'n leerder se reg om 'n bepaalde skool by te woon. Beheerliggaam Die beheerliggaam is 'n statutêre liggaam van demokraties verkose persone wat verkies is om die skool te beheer en hulle pligte en werksaamhede namens die skool uit te voer. Die lede bestaan uit ouers van leerders van die skool, opvoeders, die prinsipaal (ex Officio Lid) asook gekoöpteerde lede. Die beheerliggaam is verantwoordelik vir die daarstelling van die beleid en reëls waarvolgens die skool georganiseer, bestuur en beheer word. Opvoeders Soos gedefineer in die "Educators Employment Act (1996) 'n opgeleide persoon wat deur die prinsipaal aangestel word om die opvoeding van 'n bepaalde groep kinders tot 'n bepaalde vak of vakke waar te neem en geregistreer is as 'n professionele opvoeder by die Onderwys Owerhede.
|
2. DOELSTELLINGS Laerskool Helderkruin is verbind om die ouers van die leerders, leerders, asook die opvoeders ten volle te betrek by die skep van 'n gedissiplineerde skoolomgewing. Die uitsluitlike doel van so 'n proses is om positiewe dissipline te bevorder, leerders en opvoeders self-dissipline aan te leer en voorbeeldige gedrag te vestig, asook om 'n vennootskap van gesamentlike vertroue tussen ouer, kind en die skool te kweek. Elke ouer van Laerskool Helderkruin verbind hulle tot:
Die kweek van 'n pligsbesef by leerders.
Die hantering van die opvoeders en bestuur met die nodige respek
|
3. REGTE EN VERANTWOORDELIKHEDE VAN BETROKKE PARTYE
3.1 Regte van leerders Soos reeds gestel in die aanhef van Gedragskode, is Laerskool Helderkruin verbind tot die Grondwet van Suid-Afrika en daarom erken ons die regte van leerders soos volg: 3.1.1 Om ongehinderd te leer en geleer te word in 'n veilige skoolomgewing. 3.1.2 Om opvoeding te ontvang en waar prakties moontlik, vakke van hulle eie keuse binne die gegewe kurrikulum en standaarde soos voorgelê deur die Onderwysdepartement. 3.1.3 Om gereelde terugvoer te ontvang van hulle vordering ten opsigte van die akademiese en ander ontwikkelingsprosesse. 3.1.4 Om geredelike toegang te hê tot relevante skoolreëls en dokumente. 3.1.5 Om deel te neem aan patriotiese aktiwiteite, maar om ook die reg te hê om verskoon te wees van sulke aktiwiteite mits dit teen hulle geloof, godsdienstige beginsels of persoonlike oortuigings is. 3.1.6 Om die hantering van hulle griewe en opinies op 'n vooraf goedgekeurde prosedure te lig. 3.1.7 Om in 'n skool te wees, wat vry is van enige diskriminasie, dwelms, wapens, alkoholmisbruik, viktimisasie, intimidasie, seksuele teistering en kriminele gedrag. 3.2 Verantwoordelikhede van leerders Elke leerder van Laerskool Helderkruin onderneem om: 3.2.1 Elke dag klas by te woon. 3.2.2 Al sy akademiese opdragte betyds te voltooi. 3.2.3 Respek te hê vir die skool se toerusting en sy werkmateriaal op te pas. 3.2.4 Verantwoordelik te wees vir sy eie werk. 3.2.5 Hom/haarself op 'n verantwoordelike wyse te gedra sodat die veiligheid van andere nie in gedrang kom nie. 3.2.6 Gehoorsaam te wees aan die skoolreëls, skoolregulasies, skoolprosedures en skoolstandaarde. 3.2.7 Respek te hê vir hulle opvoeders en volwassenes en te erken dat hulle opleiding en ervaring tot voordeel van die leerder kan strek. 3.2.8 Om hulle volle samewerking aan die opvoeders te gee en altyd hoflik teenoor hulle op te tree. 3.3 Regte van Opvoeders Ons by Laerskool Helderkruin erken die regte van ons opvoeders soos volg: 3.3.1 Om die leerders op te lei na gelang van hulle professionele opleiding. 3.3.2 Om die geleentheid gegee te word om gereeld blootgestel te word aan nuwe neigings en ontwikkelings in die onderwys. 3.3.3 Om saam met die ouers, 'n vennootskap te vorm in die leerproses van die leerder. 3.3.4 Om gerespekteer te word deur die leerders en hulle ouers vir die kundigheid ten opsigte van die opvoeding van die kinders. 3.3.5 Om outoriteit en dissipline tydens die leerproses toe te pas, hetsy tydens binne- of buitemuurse aktiwiteite. 3.3.6 Om redelike stappe te neem om die veiligheid van die leerders te verseker. 3.3.7 Om paslike prosedures in plek te sit om oortredings en onaanvaarbare gedrag deur leerders te adresseer. 3.4 Verantwoordelikhede van Opvoeders Elke opvoeder van Laerskool Helderkruin verbind hom/haar tot die volgende verantwoordelikhede: 3.4.1 Om gereeld en betyds op te daag vir werk. 3.4.2 Om elke dag, voor te berei, sodat die program interessant en aanpassend is by die belangstelling en vermoëns van die leerders. 3.4.3 Om goeie interpersoonlike verhoudings te ontwikkel met die leerders, ouers en kollegas. 3.4.4 Om op 'n verantwoordelike en professionele manier op te tree, sodat die leerders die voorbeeld kan navolg. 3.4.5 Om effektiewe onderwystegnieke toe te pas, wat die leerder sal help om die tekortkominge te bowe te kom. 3.4.6 Om 'n atmosfeer in die klaskamer te skep van respek, dissipline en goeie gedrag waarin leer kan plaasvind. 3.4.7 Om hulle te weerhou van afbrekende gedrag of taal ten opsigte van 'n leerder, kollega of 'n ouer. 3.4.8 Om gehoorsaam te wees aan die skoolreëls, regulasies, prosedures en standaarde. 3.5 Regte van Ouers Elke ouer van die leerders aan die Laerskool Helderkruin het die reg om: 3.5.1 Te dien op die beheerliggaam van die skool, indien demokraties verkies. 3.5.2 Toe te sien dat die standaard van die onderwys korrek en in lyn is met die beginsels soos vervat in die Skoolwet (1996). 3.5.3 Deel te neem in die besluitnemingsprosesse soos van tyd tot tyd deur die skool verlang. 3.5.4 Gereeld op hoogte gehou te word ten opsigte van die vordering van die leerder by die skool. 3.5.5 In kennis gestel te word, indien die leerder enige probleme in die akademiese of buitemuurse aktiwiteite of selfs gedragsafwykingspatrone openbaar. 3.5.6 'n Tweede opinie in te win, indien die probleme soos uiteengesit in 3.5.5 en onder die ouer se aandag gebring, nie na wense aangespreek word nie. 3.5.7 Enige probleem met of die opvoeder of die prinsipaal te bespreek, maar dit op so 'n manier te doen dat die opvoeder se integriteit nie afgekraak word nie of sy/haar regte nie aangetas word nie. 3.6 Verantwoordelikhede van die Ouers Elke ouer wat 'n leerder/s aan Laerskool Helderkruin toevertrou vir hulle opvoeding het die volgende verantwoordelikhede: 3.6.1 Om toe te sien dat hulle kind/ers elke dag skool bywoon en indien hulle afwesig is, dit onder die aandag van die skool te bring met die verstrekking van volledige redes ten opsigte van afwesigheid. 3.6.2 Om toe te sien dat gereelde akademiese rapporte van die vordering van die leerder ontvang word en dit ook te bespreek met die opvoeder en kind. 3.6.3 Om toe te sien dat die kind gesond en skoon is en dat hy/sy geimmuniseer is ten opsigte van kindersiektes soos masels, pokke en polio. 3.6.4 Om toe te sien dat die kind/ers die nodige toerusting het om hulle klaswerk en huiswerk te doen. 3.6.5 Om onder die aandag van die skool te bring indien die omstandighede van die kind verander het of indien die kind enige gedragsprobleme ervaar. 3.6.6 Om die skool te voorsien met die nodige telefoonnommers, adresse, geboortesertifikate en ook gereeld die skoolfonds te betaal. 3.6.7 Om 'n positiewe verhouding te kweek tussen die leerder, die opvoeder en die skool deur aktief betrokke te raak by die skool aktiwiteite. 3.5.8 Om toe te sien dat die kind/ers hou by die reëls en regulasies van die skool en ook hulself verbind tot die reëls. 3.7 Regte van die Beheerliggaam Die beheerliggaam is die statutêre liggaam wat demokraties verkies word om die skool te beheer. Die liggaam het 'n reg op die volgende: 3.7.1 Om opgelei te word, sodat hulle werksaamhede korrek en binne hulle vermoëns uitgevoer kan word. 3.7.2 Om die volledige ondersteuning van die prinsipaal en die departementshoof te kry. 3.7.3 Om verskeie reëls en regulasies vir die skool daar te stel, soos onder andere:
Die Grondwet van die skool.
Die missie-stelling van die skool.
Die gedragskode van die skool.
Die taal en godsdiensbeleid van die skool en dit voor te hou aan alle vennote vir goedkeuring en insette. 3.7.4 Om persone met spesiale kundigheid te koöpteer tot die liggaam. 3.7.5 Om spesiale komitees aan te stel wat na sekere gespesialiseerde funksies sal omsien soos bv. die finansiëlekomitee, die opleidingskomitee en terreinkomitee. 3.7.6 Om betrokke te wees by die aanstelling van opvoeders by die skool en in dié verband moet aanbevelings van die beheerliggaam na die departementshoof gestuur word. 3.8 Pligte van die Beheerliggaam Die beheerliggaam is verantwoordelik vir die bevordering van die belange van die skool, daarom sluit hulle pligte in: 3.8.1 Om geldinsamelingaksies te loods om sodoende die gehalte van onderwys by die skool te verbeter. 3.8.2 Om die finansiële posisie van die skool deeglik te oorweeg en te besluit op die betaling van skoolgeld, inaggenome die finansiële posisie van die ouers. Dit sluit in die administrasie van die skoolgeld en die skep van 'n spesiale fonds (trust). 3.8.3 Om die grond en die geboue te gebruik in belang van die werk wat by die skool gedoen moet word. Dit sluit in die betaling van dienste soos elektrisiteit, vullisverwydering en ander dienste. 3.8.4 Om toe te sien na die roerende eiendom soos bv. meubels, boeke, rekenaars ens. 3.8.5 Om die geld deur die skool ingesamel of wat vir die skool geskenk is te gebruik soos uiteengesit in die Skolewet en dan spesifiek vir enige opvoedkundige doeleindes. 3.8.6 Om jaarliks 'n begroting op te stel en dit aan 'n algemene vergadering van ouers voor te lê vir goedkeuring. 3.8.7 Om rekord te hou van alles wat met die geld en eiendom van die skool verband hou soos bv. finansiële state en eiendomsregister. 3.8.8 Om die buitemuurse aktiwiteite van die skool en die vakopsies te bepaal. 3.8.9 Om toe te sien dat genoegsame opvoedkundige materiaal, handboeke en toerusting vir die skool aangekoop word. 3.8.10 Om onderlinge vertroue te kweek tussen alle vennote deur altyd deursigtig te wees in die optrede ten opsigte van die skool.
|
4. DISSIPLINÊRE PROSEDURE
4.1 Die Proses a. In die proses van korrigering van onaanvaarbare gedrag, sal verskeie persone of departemente betrek word by die proses; naamlik:
Die opvoeders
Die hoofde van junior of senior primêre fase
Die Prinsipaal
Die Beheerliggaam
Die onderwysdepartement, by name die departementshoof (DH) b. Alvorens dissiplinêre aksie geneem kan word, moet 'n voorlopige ondersoek gedoen word. Die doel van die voorondersoek is om vas te stel of daar genoegsame bewyse is, wat bepaal dat die ootreding dissiplinêr aangespreek moet word. Moontlike vrae wat beantwoord moet word is:
Weet die leerder/opvoeder/werker dat sy gedrag teenstrydig is met die skoolreëls, -beleid, -regulasies en -prosedures?
Was die oortreding ernstig genoeg om 'n dissiplinêre ondersoek te regverdig?
Wat was die doel van die persoon se gedrag (wat wou hy/sy daarmee bereik het)?
Watter feite en getuies is beskikbaar ten opsigte van die ootreding?
Watter spesifieke reël/regulasie is verbreek?
Wat is die impak van die wangedrag op die missie? Indien al die bogenoemde vrae op so 'n manier beantwoord kan word, dat dit genoegsame gronde gee ten opsigte van die negatiewe invloed van die gedrag van die persoon op die skoolomgewing, kan die saak verwys word vir dissiplinêre ondersoek. c. Die voorlopige ondersoek moet gehou word deur die betrokke opvoeder, of toesighouer van die leerder of opvoeder of werker. 'n Volledige verslag moet dan aan die prinsipaal voorgelê word vir besluitneming. Slegs die prinsipaal mag dissiplinêre aksie teen 'n leerder of opvoeder instel, en alleenlik indien daar genoegsame feite tot sy/haar beskikking gestel is, wat dui op 'n ernstige ootreding. d. Alleenlik op advies van die prinsipaal sal die beheerliggaam die Dissiplinêre komitee in die lewe roep om die aantygings teen die persoon te ondersoek. e. Die Dissiplinêre komitee sal bestaan uit 3 (drie) persone, wat of lede van die beheerliggaam is of wat ouers van die skool is. Die voorsitter moet 'n ouer wees of 'n lid van die beheerliggaam. Die 2 (twee) oorblywende lede mag nie die prinsipaal of 'n leerder wees nie. Geen persoon wat enigsins persoonlike kennis van die saak het, mag aangestel word tot die komitee nie. f. Alle leerders/opvoeders/werkers/bestuur wat aangekla word van teenstrydige gedrag ten opsigte van die gedragskode, sal die reg hê tot 'n regverdige verhoor waar alle klagtes jeens hom/haar aangehoor sal word. 'N PERSOON IS NIE SKULDIG ALVORENS HY/SY NIE SKULDIG BEWYS IS NIE. g. Sodra die prinsipaal gegewe uit die feite voorgelê aan hom/haar, besluit om die klag teen die persoon te ondersoek, moet 'n kennisgewing voltooi word en aan die beskuldigde gegee word, wat aan hom/haar die volgende aandui:
Datum van oortreding
Plek van oortreding
Aard van oortreding
Plek van die verhoor
Regte van die persoon in terme van die verhoor Die kennisgewing moet deur die beheerliggaam aan die persoon oorgedra word. Hierdie kennisgewing moet 5 (vyf) skooldae voor die verhoor aan die aangeklaagde persoon oorgedra word. h. Die aangeklaagde persoon moet vergesel word van 'n verteenwoordiger. In die geval van 'n opvoeder kan dit 'n mede-kollega wees of 'n lid van die personeelkomitee, of selfs 'n unieverteenwoordiger. 'n Leerder kan vergesel wees van sy ouers en 'n werker kan deur 'n mede-werker ondersteun word. Die rol van die verteenwoordiger is om die saak van die aangeklaagde voorop te stel en namens die aangeklaagde persoon te hanteer. i. Tydens die verhoor sal al die nodige bewyse/getuies jeens die aangeklaagde persoon ondersoek word. Die voorsitter van die dissiplinêre komitee sal notas neem of laat neem en sal die stappe volg soos aangedui in die gids tot dissiplinêre proses of soos hieronder uiteengesit:
Lees die klagte voor van die aangeklaagde.
Stel al die partye aan mekaar voor, verduidelik hulle rolle en laat die register teken
Maak seker dat die aangeklaagde die klag verstaan en dat hy/sy 'n verteenwoordiger van sy/haar eie keuse het. Indien die persoon nie 'n verteenwoordiger wil hê nie, moet 'n nota op rekord geplaas word en daarbenewens geteken word
Daar moet ook vasgestel word of die persoon genoegsame kennis oor die verhoor gekry het en of hy/sy genoeg tyd gehad het om voor te berei. Indien daar nie genoegsame tyd vir voorbereiding was nie moet die voorsitter eerder die saak uitstel vir 24 uur en 'n verdere kennisgewing in dié verband moet uitgereik word.
Alvorens die aangeklaagde sy/haar saak stel moet die getuies die ondersoek/verhoor verlaat
Die aanklaer kry eerste die beurt om sy/haar saak te stel. Daarna kan die aangeklaagde daarop reageer en vrae stel. (Alle vrae moet relevant wees)
Die voorsitter moet eers vasstel hoe die aangeklaagde op die klag reageer en dit moet genotuleer word. Al pleit die aangeklaagde skuldig op die klag moet alle partye nog hulle saak stel.
Albei partye se getuienis moet geroep en aangehoor word. In albei gevalle kan die ander party die getuies ondervra
Alvorens die voorsitter, besluit of die aangeklaagde skuldig of onskuldig is, moet die getuies die verhoor verlaat en moet die aanklaer asook die aangeklaagde die geleentheid gegee word om hulle finale stellings te maak.
Die komitee moet besluit in terme van die beskikbare feite of die aangeklaagde persoon skuldig of onskuldig is. As daar enige twyfel is, moet die aangeklaagde die voordeel van die twyfel gegee word.
Die aangeklaagde het die geleentheid voordat die sanksie uitgespreek word, om die komitee te vergewis van enige versagtende omstandighede wat inaggeneem moet word.
Die dissplinêre komitee moet die volgende inagneem voordat die finale uitspraak gegee word:
Die persoon se huishoudelike omstandighede.
Die persoon se vorige rekord
Die persoon se rede vir sy optrede
Die effek van die gedrag op die missie (Gedragskode van Skool)
Nadat die uitspraak gegee is, moet die persoon se reg op appèl uitgewys word. Dit moet skriftelik geskied binne 2 (twee) dae nadat die sanksie uitgespreek is. Die skriftelike dokument moet aan die prinsipaal besorg word. Die aangeklaagde kan appèlleer op die volgende gronde j. Skorsing Skorsing Indien die Voorsittende beampte besluit dat die uitkoms van die ondersoek skorsing is, moet die Prinsipaal die Distriksdirekteur onmiddellik kontak en in kennis stel van die besluitneming. Ook moet die ouers skriftelik in kennis gestel word, asook van die periode van skorsing. Daarna moet die partye 'n ooreenkoms teken wat die volgende bevat:
Die leerder/opvoeder stem ooreen met die straf.
Hy/sy onderneem om nie weer so op te tree nie
Indien die oortreding herhaal word, staan hy/sy die kans om uitgesit te word vanuit die Skool.
Die ouers verklaar onder eed, dat hulle sal toesien dat die leerder die straf uitdien. k. Uitsetting In die geval waar die voorsittende beampte besluit, dat die leerder/opvoeder uitgesit moet word, moet die volgende aksies geneem word:
Die ouers/opvoeder moet skriftelik in kennis gestel word oor die redes vir die uitsetting, asook moet aangedui word dat die Distriksdirekteur reeds in kennis gestel is en dat 'n volledige rapport aan die Departement voorgelê is.
Die Hoof van die Onderwysdepartement kan alleenlik die uitsetting onderskryf en goedkeur.
Daar sal deur die Departement gepoog word om die leerder/opvoeder in 'n ander skool te plaas of te verwys vir professionele hulp. l. Appèl
'n Leerder/opvoeder het die reg om binne 7 (sewe) dae te appélleer op 'n uitslag, en wel na die Distriksdirekteur.
Die Distriksdirekteur sal dan binne 14 (veertien) dae na ontvangs van appél 'n verhoor hou.
Die besluit van die Distriksdirekteur ten opsigte van die appél is finaal en bindend.
|
5. KLASSIFIKASIE VAN WANGEDRAG 5.1 KLASSIFIKASIE VAN WANGEDRAG Onaanvaarbare gedrag word opgedeel in vier klasse van oortredings: Klas 1 - Oortreding Dit is gewoonlik die eerste oortreding. In dié geval is die oortreding nie van ernstige graad nie en het die optrede van die persoon nie 'n groot invloed op die skoolomgewing of die ander leerders gehad nie. In meeste van die gevalle word daar 'n gesprek met die ouers gevoer of word daar 'n gedragskontrak met die leerder opgestel. In die geval van meer ernstige oortredings word 'n geskrewe waarskuwing op rekord geplaas. Klas 2 - Oortreding Gewoonlik begaan die persoon dieselfde oortreding weer en is die ernstigheidsvlak van die oortreding hoër. Daar is ook 'n duidelike aanduiding van intensie/doel om die oortreding te pleeg. In meeste van die gevalle word 'n skriftelike waarskuwing op rekord geplaas Klas 3 - Oortreding Die persoon het weer dieselfde oortreding begaan en dit blyk of hy/sy nie die waarskuwing ter harte geneem het nie. Die persoon kan of vir professionele hulp verwys word of kan 'n finale geskrewe waarskuwing kry. In sommige gevalle indien die oortreding ernstig van aard was en die doel was om skade te berokken, kan 'n aanbeveling gemaak word ten opsigte van skorsing. (Die proses word later beskryf) Klas 4 - Oortreding Dit is baie duidelik dat die persoon se gedrag nie korrigeerbaar is nie en dat sy gedrag van so 'n aard is dat dit nadelig vir homself, vir sy kollegas of mede-leerders is en die algemene beeld van die skool skaad. In dié geval kan uitsetting oorweeg word. 'n Applikasie kan gerig word aan die Departement van Onderwys wat dit kan bekragtig. 'n Skedule van die tipe oortredings asook die dissiplinêre agente en sanksies is beskikbaar op aanvraag. 5.2 TIPE GEDRAG WAT KAN LEI TOT DISSIPLINÊRE AKSIE 5.2.1 Laat kom by skool. 5.2.2 Verlaat die skool sonder toestemming van opvoeder / prinsipaal. 5.2.3 Neem afperiodes tydens skoolure. 5.2.4 Langer as 2 dae siek sonder mediese sertifikaat. 5.2.5 Afwesigheid sonder toestemming vanaf skool vir 5 skooldae 5.2.6 Werk is nie volgens neergelegde standaarde nie 5.2.7 Werk gelewer van swak kwalitiet 5.2.8 Misbruik/skade van/aan skool fasiliteite en toerusting (badkamers, boeke, banke, speelgronde). 5.2.9 Voltooi nie huiswerk nie. 5.2.10 Oneerlikheid of afkyk in toetse. 5.2.11 Rook. 5.2.12 Weiering om 'n instruksie/opdrag uit te voer. 5.2.13 Gebruik van ongeoorloofde taal of skeltaal. 5.2.14 Ongemagtigde gebruik van skool toerusting of materiaal (neem goedere sonder toestemming). 5.2.15 Gebruik van/of onder die invloed wees van drank of dwelms. 5.2.16 Ongemagtige besit van alkolhol of dwelms. 5.2.17 Aanranding of bakleiery by die skool. 5.2.18 Weiering om te voldoen aan prosedures of beleidstellings (reëls en gedragskode) 5.2.19 Onaanvaarbare gedrag/praatjies wat kan lei tot die skading van die beeld van die skool. 5.2.20 Die gebruik van toerusting op so 'n manier dat dit ander se veiligheid in gedrang bring. 5.2.21 Swak huishouding in die klas of op speelgrond (papiere, rommel ens. 5.2.22 Teistering van ander kinders wat insluit, maar nie noodwending beperk is tot, seksuele grappe of verwysing na 'n persoon se kleur, geslag of ras 5.2.23 Growwe opstandigheid of ongehoorsaamheid. 5.2.24 Intimidasie of viktimisering.
|
6. GRIEWE PROSEDURE
6.1 Doelwit Om 'n effektiewe Grieweprosedure daar te stel, wat alle vennote onder andere ouers, professionele personeel, opvoeders en leerders instaat te stel, om griewe ten opsigte van verskeie prosesse, aksies en persone te lig, op 'n gestruktureerde manier. 6.2 Toepassingsveld Die prosedure is spesifiek gerig op alle vennote van leerders te Laerskool Helderkruin, wat gegrief voel ten opsigte van spesifieke sake of aangeleenthede of aksie ten opsigte van hulle/sy/haar/kind/kinders 6.3 Tipe Griewe Die prosedure maak voorsiening vir die volgende tipe griewe ten opsigte van die: 6.3.1 Gedrag van 'n leerder, ten opsigte van 'n ander leerder, opvoeder of skooltoerusting. 6.3.2 Gedrag van die Beheerliggaam of lede van die Beheerliggaam. 6.3.3 Gedrag van die Komiteelede. 6.3.4 Gedrag van ouers ten opsigte van opvoeders en die skool. 6.3.5 Gedrag van 'n opvoeder ten opsigte van 'n leerder, 'n kollega, ouer of die skoolomgewing 6.3.6 Gedrag van werkers van bestuur van die skool ten opsigte van ander werkers, leerders, opvoeders en skooltoerusting en omgewing.
6.4 Die Proses 6.4.1 'n Grief moet so gou moontlik gerapporteer word en wel skriftelik. 6.4.2 Die klagte kan met die prinsipaal/opvoeder informeel bespreek word in 'n poging om dit op te los. 6.4.3 Die gegriefde vul 'n kennisgewing in wat ingelewer word by die prinsipaal se kantoor. 6.4.4 Op die kennisgewing moet die gegriefde persoon aandui teen wie hy/sy 'n grief het, asook 'n kort beskrywing gee van die grief. 6.4.5 Indien die grief ten opsigte van 'n opvoeder is, sal die prinsipaal 'n afspraak maak met die ouer en 'n volledige verklaring afneem. Die Prinsipaal sal die saak verwys na die Personeelkomitee wat die betrokke persoon waarteen die grief gelê is, sal ondervra en 'n aanbeveling sal maak na die Prinsipaal ten opsigte van die aksies wat teen die opvoeder geneem moet word. 6.4.6 Die Prinsipaal sal die opvoeder inroep en hom verwittig van die uitslag van die ondersoek. Die ernstigheid van die aanklag asook die duurte van die oortreding sal daarop dui of daar oorgegaan moet word na 'n dissplinêre aksie waarna 'n volledige verhoor gehou sal word. 6.4.7 Indien die grief gerig is ten opsigte van lede van die Beheerliggaam of die Beheerliggaam in totaliteit, sal dieselfde prosedure gevolg word soos beskryf in 6.4.1, 6.4.2 en 6.4.3, maar daarna sal die saak verwys word na die Opleidingskomitee wat die saak sal ondersoek en 'n aanbeveling aan die Prinsipaal sal maak. Die Opleidingskomitee sal in dié geval as 'n onafhanklike Ondersoekkomitee optree. 6.4.8 Die Voorsitter van die Opleidingskomitee sal dan die aanbeveling aan die Beheerliggaam oordra, waarna op aksies ten opsigte van die betrokke persoon/persone besluit sal word 6.4.9 Die proses beskryf in 6.4.6 en 6.4.7 sal ook van toepassing wees op komiteelede van spesifieke komitees asook ouers wie se gedrag nie na wense is nie 6.4.10 Indien 'n ouer 'n klag het ten opsigte van die gedrag van 'n spesifieke ander leerder, sal dieselfde proses gevolg word soos beskryf in 6.4.1, 6.4.2 en 6.4.3, maar die ondersoek sal waargeneem word deur 'n spesiaal aangestelde komitee bestaande uit die Departementshoof van die betrokke leerder asook twee (2) ander aangewysde personeellede. Die spesiale Ondersoekkomitee sal dan 'n aanbeveling tot die sanksies ten opsigte van die leerder maak 6.4.11 Dieselfde proses sal gevolg word indien 'n opvoeder 'n probleem het met die gedrag van 'n leerder. 6.4.12 In al die bogenoemde gevalle soos beskryf in 6.4.4, 6.4.6 en 6.4.8 sal 'n skriftelike kennisgewing deur die Prinsipaal aan die gegriefde persoon (die een wat die klag gelê het) gegee word 6.4.13 'n Gedragskode is beskikbaar op aanvraag ten opsigte van oortredings en moontlike strafmaatreëls. Daar moet egter gelet word dat dit slegs 'n maatstaf is en nie voorskriftelik van aard is nie.
|