Laerskool Helderkruin se Pa-en-Seun Mini-Krieket Dag
Op Saterdag, 20 Augustus het Laerskool Helderkruin sy eerste jaarlikse Pa-en-Seun Mini-Krieket dag aangebied. Ongeveer 60 graad R-, graad 1- en graad 2-leerlinge het hul pa's oorreed om hierdie genotvolle en leersame dag by te woon.
Die dag is aangebied deur Mnr. Hoosyn Ayob, 'n welbekende afrigter en kenner in die veld van krieket ontwikkeling onder jong kinders, en hy is bygestaan deur Laerskool Helderkruin se mini-krieket afrigters. Dit was nie net die seuns wie se vaardighede opgeskerp is nie, maar pa moes self bontstaan en nuwe kolf-, boul- en veldwerk tegnieke aanleer. Die vaardigheidsoefeninge is afgesluit met 'n prettige, tog kompeterende wedstryd tussen pa en seun.
Na afloop van die bedrywige oggend kon elke pa en seun smul aan 'n boereworsrol en yskoue koeldrank!