1. BELEID Ter wille van die vennootskap tussen leerder, ouer, skool en owerheid is dit die skool se missie om:
die volle potensiaal van elke leerder te ontwikkel deur kwaliteit- en toekomsgerigte onderwys
geskoei op ‘n Christelike waardesisteem, met erkenning van ouers se keusevryheid
met Afrikaans as medium, onderhewig aan die Grondwet. Om die bogenoemde te bereik, word die volgende onderskryf: 1.1 ‘n Opvoedkundige verantwoordbare program van gedifferensieerde onderwys word toegepas wat daartoe lei dat elke leerder onderrig ontvang volgens sy/haar bekwaamheid, aanleg en belangstelling. 1.2 ‘n Leerder moet by die natuurlike, kronologiese ouderdom van die graad waartoe toegang verlang word, inpas. 1.3 Leerdergetalle word bepaal deur redelike klasgroottes, voorgeskrewe leerderonderwysergetalverhoudings en ander wetgewing soos van tyd tot tyd van toepassing mag wees. 1.4 Bewyslewering van goeie gedrag en bevredigende vordering aan vorige skole of ander inrigtings. 1.5 Die stiptelike nakoming van alle finansiële verpligtinge. 1.6 Die leerders is hoofsaaklik afkomstig uit huisgesinne wat in Helderkruin en naburige voorstede woonagtig is. By die oorweging van enige aansoek om toelating word die behoud van hierdie gemeenskap se waardes, etos en die suksesvolle funksionering van die skool in sy geheel sover moontlik in ag geneem. 1.7 Die reg van die skoolbestuur om die reëls toe te pas en dissiplinêre stappe te neem en indien nodig ‘n leerder na regmatige optrede uit die skool te sit op grond van onaanvaarbare optrede, wangedrag of onbevredigende skolastiese vordering. 1.8 Die reg van die beheerliggaam om, in oorleg met die Departement van Onderwys, ‘n leerder toegang tot die skool toe te laat of te weier (verwys na 1.4 en 1.7). 1.9 Mede-verantwoordelikheid van ouers vir die dissipline, ontwikkeling en opvoeding van die leerder. 1.10 Die beheerliggaam en skoolbestuur se verantwoordelikheid om duidelike riglyne te stel en te implementeer sodat die skool se missie bereik word. 1.11 Geen diskriminasie (ras, geslag, kultuur) sal toegelaat word nie. 1.12 Leerders wat nie burgers van die RSA is nie, mag toegelaat word tot Laerskool Helderkruin. 1.13 Grense: Alhoewel die gemeenskap waarin die skool geleë is, die natuurlike voedingsgebied van die skool is, is daar nie vasgestelde grense nie en word leerders uit ander gebiede ook aanvaar. 1.14 Laerskool Helderkruin pas inklusiewe onderwys toe wat beteken dat kinders met buitengewone behoeftes, sover prakties moontlik toegelaat word. 1.15 Leerders wat nie aan die slaagvereistes voldoen nie, kry geleentheid om die graad te herhaal. Om hierdie kinders te begelei om hul volle potensiaal te bereik, is daar Remediërende Onderrigprogramme in plek gestel. Dit sluit individuele hulp, rekenaarondersteunde Remediërende Onderrig en terapie deur privaat terapeute wat op die skoolterrein werksaam is, in.
|
2. REËLS 2.1 SKOOLTYE EN SKOOLBESOEK Aanvangstyd : 07:35 (Graad R-onderwyser sal reeds op diens wees vanaf 07:00) Eerste pouse : 09:45 – 10:00 (Toetsdae 09:50 – 10:05) Tweede pouse : 11:30 – 11:45 (Toetsdae 11:20 – 11:35) Sluitingstyd : Graad R : 13:05 (Onderwyser sal op diens wees tot 14:00) Graad 1 en 2 : 12:45 Graad 3 tot 7 : 13:15
L.W.: DIE SKOOL SLUIT VIR GRAAD 1-LEERDERS DIE EERSTE 1½ WEKE REEDS OM 12:00
2.1.1 Leerders mag onder geen omstandighede, vandat hulle die skoolterrein die oggend betree tot en met sluitingstyd, die skoolterrein verlaat sonder skriftelike toestemming van die hoof of adjunkhoof nie. 2.1.2 Ouers moet ‘n skriftelike versoek aan die hoof rig dat ‘n leerder gedurende skoolure die skoolterrein mag verlaat. Ouers moet eers by die kantoor aanmeld en ‘n skriftelike toestemmingsbrief kry om die leerder te mag neem. ‘n Onderwyser mag onder geen omstandighede die kind verskoon sonder bogenoemde brief nie. Kinders sal ook nie toegelaat word om die skoolterrein alleen te verlaat nie. Die ouers moet die register teken wat van toepassing is op leerders wat die skool vroeg verlaat. Hierdie register is beskikbaar by Me. Laubscher in die kantoor. Leerders wat afwesig was, moet ‘n brief van hulle ouers, waarin die rede vir afwesigheid aangegee word, aan hulle klasonderwyser oorhandig sodra hulle terugkeer skool toe. 2.1.3 Alvorens ‘n leerder toegelaat word tot die skool, moet die ouer/s die Aansoek om Inskrywing teken. Die beheerliggaam, wat deur die ouers en personeel verkies word, stel die Skoolbeleid en Reëls op. 2.1.4 Leerders wat na ‘n ander skool vertrek, moet sorg dat alle handboeke ingehandig word alvorens hulle die skool verlaat. Die ouer moet skriftelik ‘n oorplasingskaart aanvra. Hierdie kaart moet deur die hoof onderteken word. 2.1.5 Ouers word versoek om nie kinders wat werklik siek is, skool toe te stuur nie. Die skool beskik nie oor die fasiliteite om siek kinders te huisves nie. 2.1.6 Aansteeklike siektes Periodes van afwesigheid van aansteeklike siektes: SIEKTE vs PASIËNT KAN NA DIE SKOOL TERUGKEER Duitse masels = By voorlegging van ‘n geneeskundige sertifikaat. Kinkhoes = 21 Dae na aanvang van trek. Masels = 7 Dae na eerste verskyning van uitslag. Omlope (kopvel of liggaam) = Onmiddellik, indien onder behoorlike behandeling en aangetaste dele bedek is. Pampoentjies = 9 Dae na verskyning van swelsel. Waterpokkies = By voorlegging van ‘n geneeskundige sertifikaat. Minimum tydperk van uitsluiting: 14 dae vanaf aanvang van siekte. Kopluise = Indien daar GEEN teken van enige nete meer is nie. L.W.: Apteke verskaf ‘n haarwasmiddel met volledige aanwysings vir die behandeling van hierdie probleem. Hierdie plaag slaan maar van tyd tot tyd toe en hou geen verband met persoonlike higiëne nie.
2.2 DISSIPLINÊRE REËLS Ferm dissipline in die skool is uiters noodsaaklik. Hiersonder kan ordelike en effektiewe onderrig nie plaasvind nie. Die gedragskode en dissiplinêre beleid word aanvaar en onderskryf deur alle leerders, ouers en onderwysers. 2.2.1 Daar word van elke leerder verwag om ten alle tye so op te tree dat daar met trots na hom/haar as ‘n “HELDERKRUINER” verwys kan word. 2.2.2 Swak taal, vloekwoorde en bakleiery is verbode. 2.2.3 Leerders moet onderwysers ten alle tye respekteer. 2.2.4 Diefstal of enige ander wangedrag sal nie geduld word nie en daar sal streng opgetree word teen diegene wat hierdie reëls oortree. 2.2.5 Leerders mag nie kougom kou wanneer hulle skooldrag aan het of wanneer hulle die skoolterrein betree nie. Skoolterrein 2.2.6 Leerders mag nie papiere of rommel op die skoolterrein gooi nie. Na elke pouse moet alle papiere opgetel word. Klipgooiery, van watter aard ook al, is streng verbode. 2.2.7 Leerders mag voor skool en gedurende pouses met ‘n tennis-, rugby-, netbalbal of met ‘n sagte bal speel. Dogters mag ook met springtoue speel. 2.2.8 Geen leerder mag teen die walle speel of daarteen ophardloop nie. Leerders mag ook nie op die stoepe en trappe speel of hardloop nie. 2.2.9 Geen leerder mag binne die skoolterrein op sy fiets ry nie. Die fiets word gestoot. Geen fiets word op die sportvelde toegelaat nie. Skooltyd 2.2.10 Geen kind mag in ‘n klas speel of hardloop nie. Tydens periodewisseling moet leerders netjies in ‘n ry na die volgende klas stap. Geen gepratery word toegelaat nie. 2.2.11 Tydens die laaste vyf minute van elke skooldag moet daar ‘n gewyde stilte dwarsdeur die hele skool heers en geen kind mag ‘n klas verlaat voor die laaste klok (d.w.s. die tweede klok) gelui het nie. Voor en na skool 2.2.12 Leerders moet die terrein onmiddellik na skool verlaat, tensy hulle by die naskoolsentrum inskakel of sportafrigting bywoon. 2.2.13 Leerders moet die straat oorsteek by die padpatrollie-oorgange, verkeersdames of by die verkeerslig by die kruising van Ruhamah- en Wilgeroodrylane. 2.2.14 Die groot hekke word om 06:30 oopgemaak en weer om 07:35 toegesluit. Daarna word dit weer om 12:45 oopgemaak. Leerders of ouers wat buite hierdie tye die skoolterrein betree of verlaat, moet van die klein hekkie in Banketstraat gebruik maak. 2.2.15 Leerders wat soggens laat kom, moet by die kantoor aanmeld - laatkom word as ‘n ernstige oortreding beskou. Die leerders moet reeds om 07:35 binne die skoolterrein wees. 2.2.16 ‘n Persoon wat die skoolterrein sonder toestemming oor ‘n naweek betree terwyl die hekke gesluit is, sal as ‘n oortreder beskou word. Regstappe kan teen sodanige persoon geneem word.
2.3 PERSOONLIKE NETHEID 2.3.1 Versorging en netheid van hare Seuns: Hare moet kort en netjies wees. Hare mag nie oor die ore hang nie en ook nie agter oor die hemp se kraag nie. Kuifhare moet só gesny wees dat dit nie nader as 1cm van die wenkbroue kom nie. Geen uitheemse haarstyle soos “STEP” ensovoorts word toegelaat nie. Die finale besluit of ‘n kind se haarsnit aanvaarbaar is, berus by die hoof en/of adjunkhoof. Dogters: Dogters se hare moet, indien dit langer as kraaglengte is, netjies vasgemaak word. Wit, rooi of blou bolletjies of linte mag gebruik word. Geen ander kleur haarversiering word toegelaat nie. Dogters se hare mag nie gekleur word nie.
2.3.2 Kleredrag Dogters
Somerdrag
Blou geruite rokkie.
Kort blou "ski pants" onder die rokkie
Kort blou skoolkouse (met skoolkleur-strepe)
Swart skoolskoene of kaalvoet
Winterdrag
Grys langbroek of grys romp, wit langmouhemp met boordjiehals en blou skooldas.
Dogters dra kort blou skoolkouse by langbroek en knielengte kouse (“bobby socks”) by grys romp.
Geen broekiekouse by skoolrompe nie.
‘n Blou skooltrui, blou skoolbaadjie of skoolwindjakker mag gedra word.
Geen ander gekleurde baadjies of serpe word toegelaat nie.
Geen Provinsiale sweetpakke mag gedra word nie.
Serpe en handskoene in die skool se “blou”-kleur word toegelaat.
Swart skoolskoene. Seuns
Somerdrag
‘n Grys kortbroek en wit kortmouhemp met oopslaanhals.
Swart skoolskoene of kaalvoet.
Winterdrag
‘n Grys langbroek, wit langmouhemp met boordjiehals en ‘n blou skooldas.
Blou skooltrui, blou skoolbaadjie of skoolwindjakker.
Geen ander gekleurde baadjies of serpe word toegelaat nie.
Geen Provinsiale sweetpakke mag gedra word nie.
Serpe en handskoene in die skool se “blou”-kleur word toegelaat.
Swart skoolskoene.
Klereleweransiers Antoinettes Uitrusters - Witpoortjie - 955 2285 Viva Sport - Florida - 672 7562
2.3.3 Algemeen Geen ringe of juweliersware, behalwe seëlringe, mag deur die dogters skool toe gedra word nie. Horlosies is toelaatbaar en “Medic-Alerts”-kettinkies spreek vanself. Oorringetjies (“sleepers” met ‘n maksimum dikte van 1,5mm) of –knopies word toegelaat indien dit goud of silwer is. Oorkrabbetjies met ‘n siersteentjie of oorringetjies met ‘n gelukbringertjie (“charm”) word nie toegelaat nie. Slegs een oorringetjie per oor word toegelaat.
2.4 TIPE GEDRAG WAT KAN LEI TOT DISSIPLINÊRE AKSIE 1. Laat kom by die skool. 2. Verlaat die skool sonder toestemming van opvoeder/prinsipaal. 3. Neem afperiodes tydens skoolure. 4. Langer as twee dae siek sonder mediese sertifikaat. 5. Afwesigheid sonder toestemming vanaf die skool vir vyf skooldae. 6. Werk is nie volgens neergelegde standaard nie. 7. Werk gelewer van swak kwaliteit. 8. Misbruik/skade van/aan skoolfasiliteite en –toerusting (badkamers, boeke, banke, speelgronde). 9. Voltooi nie huiswerk nie. 10. Oneerlikheid of afkyk in toetse. 11. Rook. 12. Weiering om ‘n instruksie/opdrag uit te voer. 13. Gebruik van ongeoorloofde taal of skeltaal. 14. Ongemagtigde gebruik van skooltoerusting of –materiaal (neem goedere sonder toestemming). 15. Gebruik van/of onder die invloed wees van drank of dwelms. 16. Ongemagtigde besit van alkohol of dwelms. 17. Aanranding of bakleiery by die skool. 18. Weiering om te voldoen aan prosedures of beleidstellings (reëls en gedragskode). 19. Onaanvaarbare gedrag/praatjies wat kan lei tot die skending van die beeld van die skool. 20. Die gebruik van toerusting op so ‘n manier dat dit ander se veiligheid in gedrang bring. 21. Swak huishouding in die klas of op speelgrond (papiere, rommel ensovoorts). 22. Teistering van ander kinders wat insluit, maar nie noodwendig beperk is tot, seksuele grappe of verwysing na ‘n persoon se kleur, geslag of ras. 23. Growwe opstandigheid of ongehoorsaamheid. 24. Intimidasie of viktimisering.
2.5 KLASSIFIKASIE VAN WANGEDRAG Onaanvaarbare gedrag word opgedeel in vier klasse van oortredings: Klas 1 : Oortreding Dit is gewoonlik die eerste oortreding. In dié geval is die oortreding nie van ernstige graad nie en het die optrede van die persoon nie ‘n groot invloed op die skoolomgewing of die ander leerders gehad nie. In die meeste van die gevalle word daar ‘n gesprek met die ouers gevoer of word daar ‘n gedragskontrak met die leerder opgestel. In die geval van meer ernstige oortredings word ‘n geskrewe waarskuwing op rekord geplaas.
Klas 2: Oortreding Gewoonlik begaan die persoon dieselfde oortreding weer en is die ernstigheidsvlak van die oortreding hoër. Daar is ook ‘n duidelike aanduiding van intensie/doel om die oortreding te pleeg. In meeste van die gevalle word ‘n skriftelike waarskuwing op rekord geplaas.
Klas 3: Oortreding Die persoon het weer dieselfde oortreding begaan en dit blyk dat hy/sy nie die waarskuwing ter harte geneem het nie. Die persoon kan òf vir professionele hulp verwys word òf kan ‘n finale geskrewe waarskuwing kry. In sommige gevalle, indien die oortreding ernstig van aard was en die doel was om skade te berokken, kan ‘n aanbeveling gemaak word ten opsigte van skorsing.
Klas 4: Oortreding Dit is baie duidelik dat die persoon se gedrag nie korrigeerbaar is nie en dat sy gedrag van so ‘n aard is dat dit nadelig vir homself, vir sy kollegas of mede-leerders is en die algemene beeld van die skool skaad. In dié geval kan uitsetting oorweeg word. ‘n Aansoek kan gerig word aan die Departement van Onderwys wat dit kan bekragtig. In die geval van klas 3- en klas 4-oortreders word sekere voorregte van die leerder ontneem, soos deur die skoolbestuur bepaal, onder andere: Graad 7-afskeid, opvoedkundige toere, skoolsokkies en ander sosiale geleenthede.
|
3. SKOOLGELD Skoolgeld is verpligtend. Die skoolgeld is maandeliks vooruitbetaalbaar, voor die sewende dag van elke maand, waarna ‘n administrasiefooi van R50,00 gehef sal word. U sal elke maand ‘n staat ontvang wat u betaling MOET vergesel. Na oorweging is daar besluit op die volgende reëlings: 3.1 Indien u probleme met betaling ondervind, moet u ‘n afspraak met die voorsitter van die finansiëlekomitee maak om die saak te bespreek. U saak sal vertroulik deur die skool hanteer word. 3.2 Skoolgeld word per kind gehef. Die bedrag word bekend gemaak nadat die begroting vir die jaar aan die ouers voorgelê is. 3.3 Die skoolgeld word oor ‘n tydperk van 10 maande gehef. Geen skoolgeld is vir Desember en Januarie betaalbaar nie. U is welkom om die skool van 10 vooruitgedateerde tjeks gedateer vanaf 1 Februarie tot 1 November, te voorsien. 3.4 U kan per tjek, kontant of deur middel van die Internet betaal. Indien u per tjek betaal, mag geen ander gelde by skoolgeld ingesluit word nie. Tjeks moet gekruis wees en uitgemaak word aan Laerskool Helderkruin. 3.5 Finansiële state is vir die ouers by die skoolkantoor ter insae, per afspraak.
|